VERKRYGING WELKOME HUPSTOOT VIR KORINGBEDRYF
SA Seed Development het aan die begin van Oktober met trots die verkryging van die Pannar Seed-handelsmerk se koringportefeulje aangekondig.
Charl van Rooyen en Alani Janeke - Landbou.com
Twee lede van SA Seed Development se koringnavorsingspan, dr. André du Toit, direkteur van navorsing, en Arné du Toit, algemene bestuurder en ’n direkteur, staan tussen koringproewe van die kultivar SAS 3855 in die Wes-Kaap.
Met die verkryging van hierdie portefeulje sal SA Seed Development goed geplaas wees om die momentum voort te sit wat die Pannar-koringteelprogram sedert sy stigting in 1988 opgebou het.
SA Seed Development sal die nuwe eienaar van die koringonderneming wees met ’n toegewyde koringnavorsingspan, waarvan dr. André du Toit die hoof van navorsing en ’n direkteur sal wees.
Du Toit was meer as 20 jaar by Pannar se koringteelprogram as teler en hoof van Corteva se Afrika-koringportefeulje betrokke. Tydens sy termyn daar het verskeie kultivars die lig gesien, wat veelsydige oplossings vir beide droëland- en besproeiingsproduksie aan produsente bied.
“SA Seed Development sal daarna streef om die uitstekende saadkwaliteit en reputasie wat Pannar vir die koringbedryf opgebou het, te handhaaf en te verbeter. Ons doel sal wees om deur die produksie van huidige en nuwe kultivars sowel as deur tegniese ondersteuning die volhoubaarheid en winsgewendheid van al ons koringprodusente landwyd te bevorder,” sê Terry Tintinger, uitvoerende hoof van SA Seed Development.
Van die koringproewe van die kultivar SAS 3855 in die Wes-Kaap.
Die Pannar-koringonderneming is op 1 Oktober vanjaar oorgedra na SA Seed Development, wat deur SA Peanuts besit word. Die saadprodukte wat tans gekweek word, sal ook oorgedra word om te verseker dat genoeg van al die huidige kommersiële kultivars in die 2025-groelseisoen vir produsente beskikbaar sal wees.
“Die besluit om Pannar se koringonderneming te verkoop ondersteun ons groter volhoubare groeistrategie,” sê Nick Goble, saadondernemingsleier vir Suid-Afrika by Corteva Agriscience.
“Ons is verbind tot ’n oorgang wat voordelig is vir werknemers, kliënte en gemeenskappe wat by die koringportefeulje betrokke is, en ons het noukeurig ’n organisasie gekies wat geposisioneer is om hoëkwaliteit-oplossings aan die bestaande kliëntebasis te bied.”
Hoogtepunte van die oorname
Die oorname van die koringportefeulje stel SA Seed Development in staat om sy invloed in die saadbedryf verder te versterk. Die maatskappy het reeds ’n sterk teenwoordigheid in die mark met produkte soos grondbone, pekanneute en lusern, en die toevoeging van koringposisies sluit perfek aan by sy groeiende portefeulje.
Du Toit, wat bekend is as ’n toonaangewende kultivarteler, speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling van nuwe kultivars vir plaaslike markte.
Met sy besondere benadering het Du Toit produsente bygestaan met innoverende produksiepraktyke om koring meer winsgewend te produseer. Die beste voorbeelde van die vernuwende planne was die verlaging van saaidigthede benodig vir beide droëland- en besproeiingskoringkultivars. Du Toit het met die ontwikkeling van koringkultivars wat verlaagde saaidigtheid vir produksie vereis, daarin geslaag om die produktiwiteit te verhoog, asook om die risiko’s vir die produsente te verminder. Verder het die koste van saad per hektaar ook afgeneem, terwyl die opbrengs toeneem.
Met navorsing wat goed in die Wes-Kaap vorder, onderneem SA Seed Development om kort voor lank die mark te betree om met innoverende en vernuwende klemplasma meer opsies vir koringproduksie aan die produsente in die Wes-Kaap te bied, aldus Du Toit.
Behoorlike oorgang en volhoubaarheid
Die oorname sluit ook die verskuiwing van Pannar-Corteva se koringverwerkingsaanleg van Kroonstad na Hartswater in. Dié sentralisering bied logistieke voordele aan SA Seed Development, veral met betrekking tot die verminderde vervoerkoste en die verbeterde verwerkingsvermoë vir koringprodusente. Die bestaande sonkrag- en batterystelsels in die Hartswater-aanleg sal ook vir die nuwe koringafdeling gebruik word.
Toekomstige innovasies en nuwe kultivars
Met die oorneme van die koringportefeulje kyk SA Seed Development na die toekoms deur die ontwikkeling van nuwe koringkultivars uit internasionale markte soos Meksiko, Texas, en Rusland. Die kommersiële evaluering van hierdie nuwe kultivars sal help om plaaslike produsente se risiko’s te verminder. Nuwe proewe in samewerking met organisasies soos MBFI en Agri Technovations sal ook die doeltreffendheid van die saadbehandelingsmetodes verbeter, wat uiteindelik opbrengste en siekteweerstand sal verhoog.
Lees meer oor hierdie insiggewende artikel op Landbou.com of kliek op die skakel hieronder om in die volle storie te duik!